Menslike seksuele gedrag

Hierdie artikel handel oor seksuele praktyke en verwante sosiale aspekte. Vir breër aspekte van seksuele gedrag, sien Seksualiteit.

Menslike seksuele gedrag of menslike seksuele aktiwiteit is die manier waarop mense hulle seksualiteit ervaar en uitdruk. Mense raak by ’n verskeidenheid seksdade betrokke, wat wissel van aktiwiteite wat op hulle eie gedoen word (byvoorbeeld masturbasie) tot dade met ’n ander persoon (byvoorbeeld seksuele omgang, niepenetrerende seks, orale seks en vele ander) in wisselende patrone en frekwensies en om ’n verskeidenheid redes.

Seksuele prikkeling lei gewoonlik tot seksuele opwekking en fisiologiese veranderings in die geprikkelde persoon. Sommige hiervan is ooglopend en ander subtieler. Seksuele gedrag kan ook optrede of aktiwiteite insluit wat daarop gemik is om die seksuele belangstelling van ’n ander persoon te wek of die ander persoon se sekslewe op te kikker, soos strategieë om ’n seksmaat te kry (om iemand die hof te maak) of persoonlike interaksies tussen twee mense (soos voorspel of BDSM). Seksuele aktiwiteit kan volg op seksuele prikkeling.

Menslike seksuele gedrag het sosiologiese, bewussyns-, emosionele, gedrags- en biologiese aspekte; dit sluit persoonlike samebinding (bonding), die deel van emosies, die fisiologie van die voortplantingstelsel, die geslagsdrang, seks en seksuele gedrag in al sy vorme in.

In sommige kulture word seks slegs binne die huwelik as aanvaarbaar beskou. Sommige seksdade is universeel of in sommige lande onwettig, terwyl ander in sekere gemeenskappe as teen die norm beskou word. Twee voorbeelde van dade wat in feitlik alle gemeenskappe as kriminele oortredings beskou word, is verkragting en seks met ’n minderjarige.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy